KIMBERLEY – ’n Ontstelde inwoner van Aristotlestraat in Herlear het onlangs foto’s van die stuk grond voor haar huis op Facebook gedeel.
Volgens die inwoner is die brandkraan al sedert 2018 stukkend. “Die grond voor my huis is nou al so deurdrenk met die water dat ek te bang is om my kar in of uit te trek. Ek is bang my kar sit in die modder vas.
“Ek het die situasie al gerapporteer en Sol Plaatje-munisipaliteit het al twee keer na die lekkasie kom kyk, maar nooit teruggekom om dit te herstel nie.”
Volgens haar is die slaggate in die pad net soveel van ’n probleem. “Die slaggate is so diep, dit kon swembaddens wees!”




