Behuising sonder werkende rioolstelsel afgegee

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Inwoners van Diamond Park naby Greenpoint het ’n nare verrassing gekry toe hulle by nuwe RDP-huise ingetrek het.

Ockert Fourie, DA-raadslid van wyk 25, sê hy het baie hard gewerk om die nodige beplanning goedgekeur te kry om die bou van behuising en infrastruktuur in die woonbuurt moontlik te maak. 

Hy was egter geskok toe hy uitvind dat een van die skouhuise, wat nie aan enige infrastruktuur gekoppel is nie, sonder voorsiening van die basiese behoeftes soos water en riool aan ’n inwoner oorhandig is.

FiND iT het Diamond Park besoek. Riool lek by verskeie mangate en dit loop in die strate af tussen die nuwe huise waar kinders loop en speel. 

’n Moeder van twee sê haar sesjarige seun is onlangs uit die hospitaal ontslaan, nadat hy deur die oorvloei van riool siek geraak het. Sy sê haar seun was skaars by die huis, toe word haar buurvrou se kind in die hospitaal opgeneem.

’n Barmhartige Samaritaan met twee kinders sê hy ruim gereeld vullis om die mangat by sy huis op. Hy sê sy bure het ’n pasgebore baba.

Fourie sê die rioolstelsel is met rommel soos klippe, bourommel en afval geblokkeer.