Sol Plaatje voorsien gratis dienste aan ses huishoudings

Deel hierdie storie / Share this story

Die huise wat tans in Herlear gebou word, is hier om te bly. Inwoners van die gebied is ontsteld oor ses huise wat in die veld agter die polisie-woonstelle gebou gaan word. Volgens ’n brief vanaf Sol Plaatje-munisipaliteit, sal dienste verniet aan die huise verskaf word

’n Brief is op 19 Februarie 2020 vanaf die Sol Plaatje-munisipaliteit aan die kontrakteur, Afribiz, uitgereik wat die projek goedkeur.   In dieselfde brief word daar aangedui dat die dienskoste vir die munisipaliteit se rekening is.  Die uitvoerende hoof, mnr. G.E Arends het in die brief die kontrakteur, AFRIBIZ, bedank vir sy bereidwilligheid om die huise te bou. Volgens FiND iT se inligting was hierdie projek nie deel van die gebruiklike tenderprosedure nie.

Onwettig

Die oprig van hierdie spesifieke eiendomme is onwettig.  So beweer Elize Niemann, DA-raadslid.  Geen van die die regte kanale is gevolg nie.  Volgens  Niemann moes daar aansoek gedoen gewees het om die erf te bekom. “Eers moet mens aansoek by die munisipaliteit doen om die erf te kry.  Daarna moet dit deur die spellingkommissie gaan.  Daar word gekyk of daar meer as een aansoek om goedkeuring is.  Indien daar is, moet daar getender word vir die erf.  Die spellingkommissie besluit dan of die erf teen ’n markverwante prys aan die persoon verkoop kan word. Die proses is nog nie klaar nie. Die raad moet dan ook die proses goedkeur of afkeur.”

Meer as een aansoek

Niemann noem dat daar ’n paar aansoeke vir daardie spesifieke erf ingedien is.  Die projek moes ook deur Human Settlement gaan, maar is vir een of ander onverklaarbare rede nie gedoen nie.  Die bouplanne is ook volgens Niemann nog nie goedgekeur nie, weens die feit dat bouplanne maande vat om goedgekeur te word

’n Brief vanaf Sol Plaatje-munisipaliteit is op 4 Maart 2020 aan Afribiz, die kontrakteur wat die huise bou, uitgereik, wat aandui dat die projek moet voortgaan.

Die DA het gister in ’n persverklaring gesê die DA maak beswaar teen die behuisingsprojek wat hulle onmiddellik gestop wil hê.

Inwoners van die gebied is tans besig om ’n petisie op te stel om die proses stop te sit.

Hier is die amptelike brief te lees.