Verkul tot in Kimberley

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Was jy ook al ’n slagoffer van ’n kullery? Het iemand al jou selfoon of duisende rande by jou gesteel?

Adam Madito, al die pad van Warrenton, is op 4 Maart uit R5800 en sy selfoon gekul. Hy het eksklusief met FiND iT gepraat.

Madito sê hy was in 2018 in ’n massiewe motorongeluk en het by pad ongelukke fonds (POF) ’n eis ingedien. “Die mense wat my gekul het, het net by my huis opgedaag. Dit was twee mans en ’n vrou wat my vertel het hulle werk vir die fonds. Hulle was netjies geklee en baie oortuigend en het ook al my inligting gehad.”

Die vermeende diewe het vir Madito gesê hy moet aan hulle R3000 betaal om die res van sy kontantbedrag vanaf die POF te ontvang. “Ek het hulle maar betaal, want hulle het dan al my inligting gehad. Dit het regtig so eg voorgekom.”

Madito het begin snuf in die neus kry toe die kontantbedrag nie in sy rekening inbetaal is nie. “Ek het hulle gevra wat hul name is en hulle het hul storie verander en gesê hulle is eintlik van die Valke, besig om ’n saak te ondersoek.”

Madito moes ’n verdere R2800 aan die drie verdagtes betaal. “Hulle het my na die OTM vergesel. Ek het geld getrek en dit aan hulle gegee. Die een man het gevra om my selfoon te leen om ’n oproep te maak. Ek het my selfoon vir hom gegee en winkel toe gestap om vir ons water te gaan koop.”

Madito sê hy het uit die winkel uitgestap en die verdagtes was met sy geld en selfoon weg.