KIMBERLEY – ’n Man (43) en sy medepligtige het op 3 Maart ’n metertaxi-bestuurder in Kimberley onder mes- en geweerpunt gehou. Die twee verdagtes het die taxibestuurder gedwing om na Boshof te ry. Tydens die rit na Boshof is die taxibestuurder herhaaldelik gesteek en ook geskiet. Die taxibestuurder is op die Boshof-pad gelos waarna die twee verdagte kapers met die taxi weggejaag het.
Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die polisie het die een verdagte op Wolmaransstad vasgetrek. “Die verdagte se medepligtige is steeds op vlug.”
Die polisie het tydens die inhegtenisneming van die 43-jarige man die metertaxi wat gekaap was, teruggekry. Verdere ondersoek het gelei tot die ontdekking van twee messe en verskeie vuurwapens met ammunisie.
Die verdagte sal na verwagting môre in die Kimberley-landdroshof verskyn.



