KIMBERLEY – Agt boere in die omgewing rondom Kimberley het gisteraand saamgespan om veediewe 25 km buite Kimberley vas te trek.
‘n Boer wat buite Kimberley boer, vertel aan FiND iT hoe sy bure hom gebel het om te gaan kyk na iets op hulle plaas. Toe die boer daar aankom, kon hy vier mans sien wat besig was om skape agter in ‘n toe bakkie te laai.
Die boere kon een van die vier mans vastrek en die ander drie het weggehardloop. Daar was volgens die boer in totaal 15 skape wat die vier verdagtes met draad agter in die bakkie vasgemaak het.
Die polisie is ontbied en die man is in hegtenis geneem. ‘n Saak van veediefstal en dieremishandeling word ondersoek.





