Nege veiligheidswenke vir jou slimfoon

Deel hierdie storie / Share this story

Verbruikers van slimfone moenie net waak teen die gebruik van openbare wifi vir bankdienste nie. 

Lees ons vorige berig, Moenie openbare wifi vir aanlyn bankdienste gebruik nie.

Hier is nege wenke om jou slimfoon te beveilig:

1. Verifikasie (stawing).

Volgens MyBroadband dink mens dit is logies om ’n wagwoord of verifikasie te gebruik om jou slimfoon gesluit te hou. 

Volgens ’n verslag van die Pew-navorsingsentrum gebruik amper ’n derde van Amerikaners geen vorm van verifikasie om hulle slimfone te sluit nie.

Toestelle moet altyd beveilig word. Moet nie ’n L-patroon of ’n 1234-PIN kode gebruik nie. Indien moontlik moet ’n kombinasie van biometriese funksies soos vingerafdruk en gesigsherkenning met ’n wagwoord gebruik word.

2. Gebruik slegs die amptelike toep-winkel.

Moet nie van derdeparty toep-winkels gebruik maak nie. Die risiko is groot vir verbruikers om kwaadwillige goggas af te laai, omdat sagteware op ander platforms nie noodwendig deur ’n aansoekproses goedgekeur word nie.

3. Toestemming van geïnstalleerde toeps.

Toeps vereis ’n verskeidenheid toestemmings sodat hulle toepaslik funksies kan verrig. Verbruikers is geneig om vinnig aanvaar te klik sonder om die vereiste toestemmings na te gaan. Lees die vereistes noukeurig deur voordat jy dit aanvaar.

Indien jy net blindelings aanvaar, kan kuberkrakers toegang tot sensitiewe inligting kry of in staat wees om jou uit te buit deur tot jou geld toegang te kry of op jou te spioeneer.

’n Goeie voorbeeld is byvoorbeeld ’n flitslig-toep: is toegang tot u mikrofoon of kamera nodig vir dié toep om te werk?

4. Gebruik sekuriteitsagteware.

Volgens MyBroadband onderskat meeste slimfoonverbruikers die waarde van sekuriteitsagteware. Slimfone is vatbaar vir inbrake en aanvalle op dieselfde manier as met rekenaars. Daarom kan betroubare sekuriteitsagteware jou in die toekoms ’n hoofpyn spaar.

5. Afvee van data deur afstandbeheer.

Sekuriteitsagteware en Google bied ’n opsie om die data op jou slimfoon af te vee as jy dit verloor of dit gesteel word.

Dit is ’n goeie opsie indien jy sensitiewe data stoor wat niemand mag sien nie.

6. Enkripsie, verberging van data en opgradering.

Maak seker om altyd ’n kopie van jou data te berg. Indien jy ’n slagoffer van ’n kwaadwillige aanval wat jou data sluit of korrupteer, het jy ten minste ’n kopie daarvan.

Gebruik enkripsie. Dit kan dit moeilik maak vir kuberkrakers om toegang tot jou data te verkry.

Jy moet ook seker maak dat die jongste sagteware-opgradering op jou slimfoon geïnstalleer is.

Gebruik ’n VPN-diens soos WARP van CloudFlare om die gebruik van jou internet privaat te maak. Kry die toep hier.

7. Veilige wegdoen van toestelle.

Miskien wil jy jou slimfoon verkoop of weggooi. Verskeie stappe moet gevolg word om veilig daarvan ontslae te kan raak.

Afhangendevan die toestel, kan dit alles insluit van die enkripsie van die data voordat jy dit uitvee tot die afteken by dienste waarby jy op die toetstel ingeteken is.

Die belange van die stappe moet nie onderskat word nie, berig MyBroadband.

8. Verdagte oproepe en phishing-tekste.

Bedrog kom in alle vorms voor. E-pos is ’n gunstelingmanier van skelms, maar dit is nie die enigste wyse waarop hulle toeslaan nie.

SMSé word ook gebruik om kwaadwillige skakels te stuur om verskeie goggas op jou toestel te laat aflaai.

Jy kan selfs oproepe van ’n buitelandse nommer ontvang en wanneer jy dit terugskakel, kan jy buitensporige pryse gevra word. Dink twee keer voor jy terugskakel.

9. Dit kan nie met my gebeur nie.

Hopelik kry jy nooit met die bogenoemde slenters te doen nie. Indien jy erken dat die moontlikheid bestaan, kan dit jou op die lange duur help om daarop voorbereid te wees.