Man woon in motor terwyl munisipaliteit sloer om woonstelle te herstel

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Johan Scheepers, 59-jarige pensionaris van Beaconsfield word al vir byna twee jaar gedwing om in sy motor te bly, nadat vyf munisipale woonstelle by Krisanthof afgebrand het.

Scheepers, wat sedert Desember 2000 daar woon, het als verloor toe sy woonstel op 28 Maart 2018 omstreeks 15:00 die middag afgebrand het. Lees ons vorige berig, Johan Scheepers het niks oor na sy woonstel afbrand.

Hy sê diensverskaffers van die Sol Plaatje-munisipaliteit het op 31 Julie 2018 gesê hulle sou die volgende Maandag met herstelwerk aan die woonstelle begin, maar hulle het nie die volgende week teruggekom nie.

Versekeraar handel ondersoek af, vind geen vuilspel

In August 2018 het Sello Matsie, munisipale woordvoerder, aan ’n plaaslike koerant gesê die versekeraar hulle ondersoek afgehandel het en geen vuilspel is vermoed nie. Matsie het gesê herstelwerk deur protesaksie vertraag. Werk sou egter in die nabye toekoms begin.

Scheepers sê diensverskaffers was twee maal in 2019 op ’n Donderdag by die woonstelkompleks met beloftes dat herstelwerk die Maandag sou begin, maar niemand het nog opgedaag nie.

Basiese menseregte word geskend 

“Ek kan nie in my eie woonstel bly nie. Ek kan nie bad of water gebruik nie en kan ook nie die toilet gebruik wanneer ek wil nie. My menseregte word geskend,” verduidelik Scheepers, wat op ’n mede-inwoner staat moet maak.  Hy sê hy kan die toilet net gebruik wanneer sy buurman by die huis is.

Mensregtekommissie genader

’n Klag is vir ondersoek by die menseregtekommissie ingehandig.

R3.7 miljoen begroting spook oor afstaan van woonstelle

Scheepers sê die raad het na 1994 tydens Manne Dipico se leierskap as premier besluit om ’n begroting van R3.7 miljoen beskikbaar te stel om die woonstelle aan die inwoners oor te dra. Dit het ook nog nie gebeur nie, sê hy.

FiND iT het die volgende vrae aan die munisipaliteit gerig:

  • Het die versekeraar die eis uitbetaal?
  • Wat het met die geld gebeur, is dit nog vir die herstelwerk toegewys?
  • Watter diensverskaffer is deur die munisipaliteit gekies?
  • Vir wanneer is die herstelwerk geskeduleer?
  • Hoe help die munisipaliteit die vyf gesinne wat deur die brand geraak is?

Geen terugvoer is betyds vir publikasie ontvang nie.