BLOEMFONTEIN – ’n Gewapende verdagte het Sondagoggend om 08:00 ’n sekuriteitswag en omstander tydens ’n transitoroof by Roots-slaghuis by die Twin City-mall, in Heideldal, geskiet.
Volgens kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, het die verdagte tydens die roof ’n skoot afgevuur. Die koeël het die G4S-wag in die bobeen getref en toe ook ’n omstander beseer, sê sy.
Die beseerdes is vir behandeling na ’n plaaslike hospitaal geneem.
Mbambo sê die verdagte het met ’n onbekende som geld in ’n wit Ford Fiesta, wat in die parkeerplek gewag het, gevlug.
Drie verdagtes word gesoek. Die ondersoek duur voort.



