UPINGTON – ’n Vervalle huis by Carltonstraat 10 op Upington is gesloop nadat dit ’n bekende uithangplek vir dwelmhandelaars en dwelmgebruikers geword het.
Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder, sê Uzuma Uka Phillip Chinedu (37) en Izuchukwu Johnson Obi (37) is gesamentlik 57 jaar tronkstraf vir swendelary en die handel in dwelms opgelê.
Chinedu, wat onwettig in die land is, gaan ongeveer 40 jaar in die tronk deurbring, sê Mnisi.
Obi, wat ook onwettig in die land is, het 17 jaar tronk gekry.
Majoor-Genl. Kholekile Galawe, provinsiale hoof van die Valke, het die beamptes vir die uitstekende werk in die stryd teen dwelmmisdade in die provinsie geprys.
“Die huis was ’n magneet vir slegte elemente. Beide die sloping en die vonnisoplegging is bewys van die toewyding van die Valke om diegene wat vir die verkoop en verspreiding van dwelmmiddels aan ons gemeenskappe verantwoordelik is, te verwyder,” het hy gesê.



