Die nasionale reguleerder vir verpligte spesifikasies (NRCS) het onlangs ’n ernstige beroep op alle formele groothandelaars gedoen om die verdere verkope van 400 g blikkies Pilchards in tamatie- en rissiesous stop te sit.
Die rede hiervoor is dat een van die sous-opvullers in die fabriek foutief was. Daar het mikroskopiese vervormings in hierdie deel van die proses plaasgevind. Die inhoud van die blikkies reageer dan mettertyd op die metaal van die blikkie, wat voedselvergiftiging by ’n persoon wat dit inneem, kan veroorsaak.
Die tipe voedselvergiftiging wat oor die algemeen met geblikte vis geassosieer word, word botulisme genoem. Simptome hiervan kan lamheid aan die een kant van die gesig, ’n droeë mond of spraak- en slukprobleme wees.
Die NCRS het alle verbruikers gevra om die Pilchards-produkte wat hulle aangekoop het, na die winkel terug te neem en hulle geld terug te eis.




