Water wat uitborrel en grondpaaie wat eintlik teerpaaie is

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Wen Studystraat in Fabricia dalk die titel van “lelikste straat in Kimberley?” Is dit ’n grondpad of is dit ’n teerpad?

Martin Son, ’n inwoner van Kimberley, het op die Sol Plaatje-gemeenskapsforum se Facebook-blad ’n paar foto’s gedeel van water wat op die hoek van Broadway- en Studystraat in Beaconsfield uitborrel.

“Dit duur al vir drie weke voort en ek het dit al telkemale aangemeld. My kommer is oor die lekkasie wat van die hoofwaterpyp waar ’n klep onlangs geïnstalleer is afkomstig is.”

Die waterpype is op Sondag 23 Februarie 2020 herstel.

Cindy Bruyns, nog ’n Kimberliet, het twee dae gelede op díé foto’s op Facebook gereageer. “Op die hoek van Aristotilelaan en Venusestraat in Beaconsfield borrel die water al sedert Desember 2018 in die strate af. Die probleem is aangemeld en waterwerke het al twee keer kom ondersoek instel.”

Die ander probleem is die slaggate in Studystraat in Fabricia. Is dit nog moontlik om met jou voertuig in Studystraat te ry? Dit is skrikwekkend om te glo hierdie straat is eintlik ’n teerpad.