SPRINGBOK – ’n Saak van nalatige en dronkbestuur teen Lionel Robinson, ’n besigheidsman van Stilbaai, gaan voort, sê die nasionale vervolgingsgesag (NVG).
Phaladi Shuping, woordvoerder van die NVG in die provinsie, sê die saak teen Robinson is tot 11 Maart 2020 vir die uitslag van die vertoë deur die beskuldigde na die kantoor van die direkteur van openbare vervolging (DOV) uitgestel.
Shuping sê die saak was op die hofrol vir 5 Februarie 2020 vir die verhoor en alle getuies was teenwoordig, maar ongelukkig het Robinson sonder die medewete van sy regsverteenwoordiger verteenwoordiging aan die kantoor van die DOV oorhandig.
Die saak is op 6 September 2019 vir aansoek om regsverteenwoordiging uitgestel. Sy regsverteenwoordiger het op 25 Oktober 2019 gevra om die saak vir voorbereiding uit te stel.
Op 27 November 2019 het mnr. Britz, ’n prokureur op rekord van die saak onttrek. ’n Lasbrief is vir Robinson uitgereik, maar is later gekanselleer toe hy laat opgedaag het. ’n Nuwe prokureur, mnr. Bouer, is op rekord aangeteken en die saak is weer vir verdere vertoë uitgestel.
Die saak kan nie uitgegooi word nie. Die staat glo dat daar ’n prima facie-saak teen die beskuldigde is, sê Shuping.
Lees ons vorige berig, “Kat-en-muis-speletjies” met dronkbestuursaak, sê beskuldigde.



