KIMBERLEY. – Daar is helder oordag by ’n huis in Herculesstraat ingebreek.
Kol. Dikamatso Mooi, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van huisbraak word ondersoek.
’n Huiswerker, wat reg oorkant die huis woon waar daar ingebreek is, sê sy het gesien hoe die verdagte met die gesteelde goedere vlug. Sy wil nie geïdentifiseer word nie, uit vrees vir viktimisasie.
“Ek het niks gehoor toe hy ingebreek het nie. Dis eers toe hy die goed oor die muur gooi, dat ek iets gehoor het. Ek het gesien hoe die man eers ’n fiets, toe ’n boks en toe nog ’n sak vol goed, oor die muur gegooi het. Hy het haastig gelyk toe hy oor die hek spring.”
Sy het dadelik ’n buurtwaggroep gekontak om die geval aan te meld.
Wickus Coetzee, van Scorp Security, sê daar was die afgelope week verskeie inbrake in die area. Hy sê Belgravia en Herlear kort meer wagte en beveel inwoners aan om by ’n buurtwag aan te sluit. “Ons het die hele dag lank wagte in Milnerstraat, want omtrent almal behoort aan die buurtwag.”
As jy by die buurtwag wil aansluit, bel Coetzee by 084 593 2681.



