Vermiste 10-jarige dogter dood aangetref

Deel hierdie storie / Share this story

BOTSHABELO – ’n 10-Jarige-dogter is op Botshabelo dood aangetref nadat sy op 9 Februarie as vermis aangemeld is.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê ’n inwoner van Section H op Botshabelo het die polisie ontbied toe hulle ’n stank reuk geruik het wat vanaf sy bure se shanty af gekom het.

Die polisie het onmiddellik gereageer en het op die dogter se liggaam afgekom. Makhele sê dit is later ontdek dat die oorledene as vermis aangemeld is nadat sy laaste omstreeks 10:00 by ‘n plaaslike winkel in Section G op Botshabelo gesien is.

Die polisie het ’n voorlopige ondersoek gedoen en dit blyk dat die eienaar van die shanty tans in Pretoria is, maar sy het ’n paartjie gelos om na haar huis te kyk, sê Makhele. 

Die paartjie is laas op 10 Februarie gesien. Makhele sê speurder-konstabel Lephui Khumalo het die familie van die oorledene gekontak en hulle het die slagoffer as hul vermiste kleindogter uitgeken. 

’n Saak van moord word ondersoek. Enigeen met inligting kan vir Khumalo by 078 688 3994 of 051 531 5805 skakel.

Die polisie maan die gemeenskap om nie die reg in eie hande te neem indien hulle die paartjie gewaar nie. 

Die ondersoek duur voort.