KIMBERLEY – Lize-Mari Esterhuyse Marais vertel hoe moedeloos sy is nadat daar twee keer in twee weke by haar huis in Brittensingel, Southridge ingebreek is. “Wat as hulle ingebreek het terwyl ek en my man by die huis was?”
Marais verwys na die geval waartydens ‘n inbreker by ‘n ander huis in Southridge met die huiseienaar in ‘n stoeigeveg betrokke geraak het toe hy gevang is.
Volgens Marais het die inbrekers verlede week Dinsdag ‘n paar tekkies, haar kamera en skootrekenaar gesteel. Marais en haar man het die polisie ontbied en ‘n saak probeer maak, maar volgens Marais het die polisie nooit na haar toe teruggekom nie.
Alarmstelsel nie geaktiveer
Op 11 Februarie het vermoedelik dieselfde inbreker weer oor haar muur gespring en haar televisie en klankstelsel gesteel. Marais vertel sy verstaan nie hoekom die alarmstelsel nie geaktiveer is toe die inbreker by haar huis probeer inkom het nie.
“Ons is nou besig om die veiligheidshekke voor en agter ons huis oor te doen en ‘n nuwe alarmstelsel te installeer. Nou na die tweede inbraak het ons ‘n saak by die polisie gaan open. Ek wil net graag die ander mense waarsku om op die uitkyk vir gevaar te wees en sekuriteitstelsels in plek te stel.”



