BLOEMFONTEIN – Die Bloemfontein-DBV het ’n groot aantal diere insluitend 900 voëls, twee varke, twee honde, ‘n paar konyne en verskeie visse wat weens honger en dors gely het op ’n kleinhoewe in Ferreira gevind.
Volgens ’n persverklaring deur die DBV het hulle ondersoek ingestel nadat hulle klagtes ontvang het van ’n persoon wat voëls, sonder skuiling teen die son, by ’n plaaslike mark verkoop het. Sommige van die hokke het nie water gehad nie. Die DBV het hom gewaarsku om die diere onmiddellik met skaduwee en water te voorsien.
Die eienaar is glo ook ’n verskaffer aan troeteldierwinkels in Bloemfontein. Die DBV is van mening dat dit die oorsprong van die probleem is.
Charmaine Engelbrecht, ’n inspekteur by die DBV, sê: “As ’n span het ons gedink en gehoop ons het die ergste gesien en wou ons glo dit kon nie erger word nie. Min het ons geweet wat vir ons by die kleinhoewe wag. Honderde diere wat vir die dood wag om hulle te verteer.”
Voëls, konyne, visse, varke, ganse, eende, hoenders, kalkoene en poue is op die eiendom gekry. Almal so vreeslik maer dat selfs hul borsbene duidelik sigbaar was. “Dit was asof hierdie diere geen vleis aan hul liggame gehad het nie, net vel en been. Hierdie diere het geen voedsel of water gehad nie, vir hoe lank weet ons nie. Hierdie arme diere was so honger dat hulle mekaar eintlik uit pure desperaatheid begin eet het.”
Die hokke is in ’n walglike vuil toestand gevind. Sommige van die voëls se snawels was te kort en gebreek om te eet. Sommige van die diere is uitgesit omrede hul toestand te ernstig was.
“Gewapen met ’n lasbrief het ons die diere verwyder. Om vir hulle van kos te voorsien, was ’n begin. Ek het gehelp om die voëls een vir een uit hul hokke te haal en ek was woedend oor hoekom ’n persoon diere so kan mishandel,” sê Engelbrecht.













