Tronkbewaarder van moord aangekla, op borgtog vrygelaat

Deel hierdie storie / Share this story

VRYSTAAT – Mojalefa Letele (49), ’n geskorste korrektiewe beampte van Goedemoed-korrektiewe sentrum, het in die Rouxville-landdroshof op aanklag van moord en sameswering tot moord verskyn.

Brig. Motantsi Sam Makhele, polisiewoordvoerder, sê Letele is in hegtenis geneem en aangekla na ’n voorval wat op 29 Maart 2019 by die korrektiewe sentrum plaasgevind het.

Twee vroulike beamptes wat op dié dag aan diens was, is deur Jongikhaya Samsam, ’n gevangene, gyselaar gehou en aangeval.

Nomsa Joyce Stuurman (35) is doodgesteek en haar kollegas is gesteek en verkrag, sê Makhele.

Samsam, wat reeds twee lewenslange vonnisse uitdien, is in hegtenis geneem nadat die polisie se Taktiese Reaksie-eenheid (TRE) toegang tot die gyselaars verkry het.

Makhele sê Samsam het tydens sy verskyning aan die hof verduidelik hoe hy deur Letele tot moord en die verkragting van die slagoffers gedwing is. Hy is op 31 Oktober 2019 twee keer lewenslank vir ontvoering, verkragting en moord gevonnis. 

Letele is met streng voorwaardes op borgtog van R10 000 vrygelaat. Die saak is na die Bloemfontein-hooggeregshof geskuif en die beskuldigde gaan op 25 Maart verskyn.