NOORD-KAAP – Die departement van landhervorming, landbou en natuurbewaring het gister wêreld-vleilanddag by die Rekaofela-oord naby Barkley-Wes gevier.
Nomandla Bloem, LUR van die provinsiale departement, sê die Noord-Kaap is bevoorreg om verskeie vleilande, onder andere Kamfersdam in Kimberley, Die Oog op Kuruman, Hakskeenpan in die Kalahari, die riviermonding by Alexanderbaai asook Verneukpan op Calvinia te hê.
Sy sê 40% alle spesies kom in vleilande voor. Vleilande is van die mees produktiewe ekostelsels in die wêreld omdat dit ‘n lewensbron is wat water gee wat:
- Mens, plant en dier van voedsel voorsien;
- Water filtreer en skoon water voorsien;
- Migrerende voëls met ’n ruspunt voorsien;
- Koolstof opvang;
- Water tydens oorstromings of natuurrampe berg;
- Grond-erosie voorkom;
“Ons het ’n groot uitdaging as gevolg van menslike inmenging asook swak bestuur van ons vleilande. Ons vleilande word met plastiek en afval besoedel. Oorbeweiding en oormatige gebruik van water skep ook probleme,” verduidelik Bloem.
Daar moet dringend opgetree word om ons vleilande te red. Bloem sê die departement het verskeie projekte begin om dit aan te spreek.




