Ses vir bedrog van R6.6 miljoen gevang

Deel hierdie storie / Share this story

BLOEMFONTEIN – Die Valke in die Vrystaat het ‘n kriminele netwerk gestuit wat onwettig en bedrieglik betaalstate en bewyse van betalings gebruik het om ’n bank van R6.6 miljoen deur bedrog te beroof.

Kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, sê Glen Ceaser (31), Veronica Crouch (30), Jolene Crouch (35), Chillerboy Floyd Buys (37), Mosa Harrinton Tseleli, Simon Cornelius Botha (46) en Mosa Harington Tseleli (36) het hier op 121 aanklagte van onder andere bedrog, vervalsing en geldwassery in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.

Die arrestasies volg nadat die ondersoek in 2017 begin is, nadat die beskuldigdes glo betaalstate en bewys van indiensneming vervals het om aansoek te doen vir die finansiering van luuksemotors sowel as kredietfasiliteite. 

Mogale sê die werker by die bank wat die transaksies gefasiliteer het, is ook sedertdien afgedank.

Ses voertuie insluitend ’n BMW 220i, BMW 320d, BMW X-drive, twee VW Golf GTI’s en ’n Mercedes Benz coupe is met die vervalste dokumente aangekoop.

Al die verdagtes is op bortog van R2 000 elk vrygelaat en sal weer op 3 Maart in die hof verskyn.

Mogale sê lasbriewe is vir nog drie verdagtes wat op vrye voet is, uitgereik.