KIMBERLEY – Die jaar het op ’n goeie voet begin vir die flaminke van Kamfersdam, met die hoop van ’n goeie broeiseisoen wat die reën gebring het.
Nomandla Bloem, LUR vir landhervorming, landbou en natuurbewaring, sê sy is gelukkig om te sien dat die damvlak by die vleiland, wat oor 400 hektaar strek, toeneem.
Dit nadat hulle op 20 Desember 2019 tydens ’n besoek ’n versnelling in die afname van damvlakke aangeteken het. Bloem sê hulle het ook toe nog geen teken van eiers gesien nie.
Broeiseisoen vind normaalweg tussen September en Maart plaas indien die toestande reg is. Terwyl die vleiland oor die algemeen 20 000 flaminke huisves, kan daar tot soveel as 50 000 voorkom.
Bloem sê hulle het egter tydens ’n opvolg besoek in Januarie opgemerk dat die vlakke by Kamfersdam toeneem. Die goeie reënval wat die stad die afgelope paar weke ontvang het, het flaminke oortuig om terug te kom en nes te maak.
Dr. Doug Harebottle, ’n lektor by die Sol Plaatje-universiteit, sê tydens sy besoek aan die dam op 25 Januarie, het hy ’n hele paar neste en verskeie broeipare wat met hofmakery besig was, opgemerk.



