Koronavirus: Mense keer terug werk toe

Deel hierdie storie / Share this story

Miljoene werkers van sekere besighede in China is stadig maar seker besig om weer terug te keer werk toe. Daar is sommige besighede wat toe bly as gevolg van gesondheidsrisiko’s. Dit is egter nog nie naby aan hoe dinge in hierdie land behoort te wees nie, berig CNN Business.

Sommige van die werkers is dankbaar om weer terug te keer werk toe. Hulle moes die afgelope paar weke sonder ’n inkomste oorleef. Ander meen dit is ’n risiko om nou weer tussen almal te moet werk wat moontlik hierdie virus na hulle kan oordra.

Die gevreesde koronavirus het tot op hede 1 016 lewens geëis. Die getal geïnfekteerde mense regoor die wêreld is tans meer as 42 000, berig NBC News.

Die Chinese owerhede het vroeër gesê hulle hoop die verspreiding van die virus sal binnekort ’n keerpunt bereik. Wu Van, die onderhoof van die Sjanghai Fudan University Medical-skool, sê die situasie is besig om te stabiliseer.