Om te gesels oor jou stressors – al word dit nie opgelos nie- skei hormone in jou liggaam af wat die negatiewe emosies geassosieer met stres verminder. Spanning kan ’n skadelike siklus begin, veral wanneer die basiese dinge verwaarloos word, wat dan lei tot meer spanning. Irene Haasbroek, kognitiewe gedragsterapeut, lewensafrigter en berader, gee raad.
Maak ’n punt om te fokus op jou basiese behoeftes soos gesond eet, goed slaap, oefening en ander vorme van selfsorg.
Moenie al jou eiers in een mandjie sit nie. Mense wat meer aandag aan een aspek van hulle lewens gee as aan die ander sukkel soms om die spanning te hanteer in dié area wat negatief geaffekteer word. Sorg vir ’n gesonde balans van jou tyd en energie tussen al die areas van jou lewe soos jou werk, familie, vriendskap en self.
Tyd vir selfsorg word gewoonlik uitgestel tot ‘dinge rustiger is’, maar wanneer selfsorg afgeskeep word, gaan al die ander areas in jou lewe daaronder ly. Maak tyd vir jouself.
In die hitte van die oomblik kan klein probleme baie groter voel en lyk as wat dit eintlik is. Neem ’n tree of twee terug en dink hoe belangrik jou stressors regtig is. Gaan dit werklik saak maak in ’n week, ’n maand, ’n jaar?
Oorweldig
Wanneer dinge te veel raak en die angstigheid is besig om oor te neem, gaan dit voel asof alles wat gedoen moet word soos een ’n berg voor jou lê en dis eenvoudig net te veel. Daarom draai jy om en gaan lê op die bed, kyk Netflix, gaan mall toe of wat ook al jou keuse is om dit te probeer ignoreer.
Maar daar is ’n gesonder manier…
Raak rustig en besef dit is nie ’n berg wat voor jou is nie, maar tientalle take, sommige groter en ander kleiner. Gaan skryf alles neer wat in jou kop aangaan. Dan kan jy al hierdie take kategoriseer, prioritiseer en vir elkeen ’n plekkie in jou skedule kry.
Die invloed van ons gedagtes en die voorloper tot angs en depressie:
Gedagtes is soos ’n lopende dialoog in jou kop. Hulle kom en gaan vinnig, partykeer te vinnig. Gedagtes bepaal hoe ons voel, wat kan lei tot angstigheid en dalk ook ’n gevoel van depressie en daarom is dit belangrik om ons gedagtes gevange te neem en te ondervra voordat hulle ons skade kan berokken.
Of ons dit besef of nie, ons probeer altyd sin maak van die dinge wat met ons gebeur. Ons oordeel gebeure as goed of sleg en terselfdertyd moet ons onthou dat hierdie oordeel ons persepsie is wat waarde gee aan die gedagtes. In werklikheid is ons gedagtes net dit: ’n gedagte en nie noodwendig die waarheid nie.
Indien jy enige negatiewe gedagtes gereeld dink en dit is besig om jou selfbeeld en jou selfwaarde af te takel, gebruik die volgende lys van vrae om hierdie gedagtes te ontleed:
- Identifiseer die herhalende gedagte wat pla.
- Wat is die bewyse vir hierdie gedagte? Is daar bewyse wat die teenoorgestelde bewys?
- Baseer ek hierdie gedagte op feite, of is dit net gevoelens?
- Is hierdie is ’n “wit en swart” gedagte, of is realiteit meer gekompliseerd?
- Is dit moontlik dat ek die bewyse misinterpreteer?
- Maak ek enige aannames?
- Kan ander mense hierdie situasie anders interpreteer? Hoe?
- Kyk ek na al die bewyse, of net na dit wat my gedagte ondersteun?
- Kan my gedagtes ‘n vergroting wees van die waarheid?
- Het ek hierdie gedagte uit gewoonte, of word dit met feite ondersteun?
- Het iemand dalk hierdie gedagte vir my geplant? Indien ja, is hy of sy ‘n betroubare bron?
- Is my gedagte ‘n waarskynlike scenario, of die slegste uitkoms moontlik?



