Crusilda Arendse is vandag by munisipale woonstelle uitgesit. Arendse het drie kinders tussen die ouderdomme van 2 en 11 en het nou geen heenkome nie.
Arendse sê sy bly al vir ’n maand en drie weke in die woonstel vandat haar vriendin in Mei 2019 afgesterf het. Sy het menigmaal probeer om die woonstel op haar naam te kry, sonder enige sukses.
Die regering het haar volgens Arendse afgeraai om die huur te betaal.
“Ek was by die munisipaliteit. Ek het hulle gevra of ek die huurgeld vir die woonstel moes inbetaal en hulle het gesê ek hoef nie.”
Vandag is Arendse onverwags by die woonstel uitgesit en die deur is toegesweis. Volgens Arendse is van haar besittings nog in die woonstel.
Ockie Fourie, DA-raadslid, het names Arendse na die voorsitter van die departement van menslike nedersettings gegaan en haar situasie aan hom verduidelik. Die antwoord wat hulle gekry het, was dat hulle ongelukkig niks aan die situasie kan doen nie. Volgens hulle het Arendse onwettig in die woonstel gebly en moet sy daarom uitgesit word.
“Ek kan nie glo dat enigiemand so onmenslik kan wees nie. Gee die vrou darem net ’n dag of twee kans voordat julle haar wegjaag by ’n plek wat in elk geval gaan leegstaan.”
Foto: Crusilda Arendse, haar drie kinders en haar boetie.



