SUID -AFRIKA – Waarom sê mens “gesondheid” nadat iemand klaar genies het? Bly dit op die ou end maar net goeie maniere? Of is ons 200 jaar later nog bang vir die Plaag?
Goeie maniere bepaal dat elke nies gevolg moet word deur iemand wat “gesondheid” sê.
Tog skuil daar bietjie meer as net goeie maniere agter hierdie gewoonte.
Of dit nou ’n muurskuddende neusontploffing of ’n pikante nies is, daar is geen nies sonder ’n “gesondheid” nie.
Waarom sê ons dan “gesondheid”?
Die ware oorsprong van hierdie sosiale optrede is effe onduidelik.
Daar is baie interessante teorieë oor die oorsprong van hierdie gewoonte, en nie verbasend nie, is baie daarvan op bygelowe gegrond.
Die gewildste teorie
Die gewildste teorie is dat hierdie gewoonte in Rome ontstaan het. Dit het tydens die uitbraak van die Plaag in Europa ontstaan. Om te nies was een van die grootste simptome van die plaag. Daar word geglo dat pous Gregorius I voorgestel het dat ’n klein gebed in die vorm van “God seën jou” ná ’n nies die persoon teen die dood sou beskerm.
Ander bygelowe
’n Ander bygelowige teorie, wat uit die antieke geloof spruit, is dat ’n nies per ongeluk die gees uit die liggaam kan verdryf. Die enigste manier hoe dit verhoed kon word, is as God jou geseën het.
Ander kulture het weer geglo dat om te nies bose geeste uit die liggaam dwing.
’n Seën is uitgespreek om die nies en die mense rondom die persoon wat nies te beskerm.
Vandag sê ons “gesondheid” as iemand nies. Dit bly op die ou end net goeie maniere.
Met die naderende draai van die seisoen wat op ons is en met almal wat met snuffels rondloop, maak jouself gereed om baie “gesondheid” te sê.



