Is ek normaal? Is daar ’n wellus-demoon in my? Dit is van die vrae wat Timothy Kieswetter (37) meer as 20 jaar terug vir homself gevra het. Timothy, seksuoloog, Christelike berader en komediant, gesels met FiND iT oor die onderwerp wat mense laat bloos.
Hoekom doen jy wat jy doen?
“Toe ek nog teologie studeer het, net na skool, was my grootste begeerte om God gelukkig te hou en Sy werk te doen, maar omdat ek ’n volbloed testosteroon-gevulde man was, het my hormone my baie gepla. Ek het met soveel skaamte en skuldgevoel rondgeloop. Ek het gevra is ek normaal? Is daar ’n wellus-demoon in my? Ek kan een spesifiek dag onthou wat ek gebid het en vir die Here gevra het hy moet die gevoel van wellus en lus wegvat. Ek sal eendag ’n non trou, ek weet nie wat ek met daai non sou doen nie, maar dit is waar my hart was. So duidelik soos wat ek nog ooit die Here se stem teruggehoor het, was dit dadelik: ‘Nee, ek gaan dit nie weg vat nie. Ek gaan dit eendag gebruik om my mense te help.’ Ek het dit nie in die stadium verstaan nie, maar nou 20 jaar later kyk ek terug. Ek is al vir 10 jaar ’n seksuoloog en dit is presies wat ek doen. Ek help gelowiges en ongelowiges om ontslae te raak van onnodige seksuele skaamte en skuldgevoel, sodat hulle voluit as mens kan lewe. Dit is hoekom ek doen wat ek doen.”
Hoe oud was jy toe jy getrou het en was jy ’n maagd?
“Ek was 20 jaar oud toe ek getrou het en ja, ek was ’n maagd, dit is hoekom ek so vinnig getrou het. Ek moes toestemming gekry het by my pa om te trou, maar darem kon ek alleen op my wittebrood gaan.”
Wat is die snaaksste ding wat jy al gehoor het?
“Dit begin gewoonlik by, is ek normaal as ek… en dan eindig dit gewoonlik by iets soos… as ek slegs ’n ereksie kan kry as my vrou sexy skoene aan het of ek met haar voete kan speel.”
Is daar iets wat jou nog steeds skok?
“Wat my die meeste skok, is dat mense so lank wag voordat hulle professionele hulp kry. Dat hulle so lank wag voordat hulle gaan vir huweliksberading. Ongelukkig is dit te laat vir die meeste mense wat by my uitkom vir bedrading. Dit is wat my skok. So baie mense wat ongelukkig is in hulle lewe, in hulle huwelike en sekslewens, kry nie hulp nie. Dit gaan nie vanself verander nie.”
Maroela Media het laasweek ’n artikel oor jou gedoen, maar dit binne ure verwyder. Hoekom dink jy het hulle dit verwyder?
“Sex sells, maar gesonde seks verkoop nie. Ons samelewing het goed gekompartementeer. Mediahuise sal nie omgee om ’n skokkende artikel oor verkragting of molestering te publiseer nie, want dit is walglik, maar om ’n artikel te publiseer waar jy hoë erotiese waarde in jou verhouding kan inbring, waar jy dit in dieselfde sin sit as godsdiens, is nie reg nie. Dit is waarmee ek die laaste 10 jaar al sukkel. Ons Afrikaners sukkel om godsdiens en seksualiteit in dieselfde sin te sit. Dit is hoekom hulle en al die ander in die laaste 10 jaar ’n probleem het met wat ek doen.”
Doen jy aanlyn of telefoniese berading?
“Ja, ek doen dit. Ek het ’n aanlyn gesonde seks gym waar ek vrae beantwoord via video-terugvoering. Dan is daar weeklikse afrigtingvideo’s wat ek uitstuur. Dit is basies wat mens op my Facebook-bladsy sien, maar net baie meer eksklusief.”
Gee vir ons drie wenke waarby jy lewe
“Lag hard, leer vinnig en speel lank. As jy daai drie goed doen, dan het jy ’n gesonde lewe.”
Timothy gaan van Maart af vir Vrouwees raad gee oor gesonde seks en seksprobleme wat vroue dalk mag teenkom. Indien jy ’n vraag oor die onderwerp het, stuur ’n e-pos aan [email protected]
Jy kan na Timothy Kieswetter se Facebook-bladsy, Gesonde seks, gaan vir meer inligting.



