SUID-AFRIKA – Met nuwe tegnologie word dit elke dag makliker om videospelletjies op verskeie toestelle te speel.
Indien jy gewonder het of gamers te veel tyd nutteloos met speletjies verdryf – dink weer – sê wetenskaplikes.
Visieverbetering
Volgens MyBroadband en GameMine moet die stelling dat spelers vierkantige ogies van te veel speletjies kan ontwikkel, hersien word.
Studies toon dat persone wat gereeld speletjies speel makliker skakerings van kleure kan uitken.
Volgens GameMine is spelers ook beter in navigasie, sowel as meer gekoördineer in hul dieptepersepsie.
Sosiale vaardighede
In die verlede was dit ’n bekommernis dat te veel videospeletjies ’n persoon kan afsonder en so hulle sosiale ontwikkeling belemmer. Studies toon egter met die ontwikkeling van tegnologie wat aanlyn-videospeletjies moontlik gemaak het, het aanlyn gemeenskappe en ondersteuning-groepe ontstaan.
GameMine glo dit help ook met die ontwikkeling van leiereienskappe, omrede sekere speletjies samewerking van mede-spelers vereis.
Mediese behandeling
Dit is moeilik om te glo, maar videospeletjies word selfs in mediese behandeling toegepas.
Volgens MyBroadband stel die interaktiewe aard van speletjies spelers in staat om hulle aandag van angstigheid en pyne, wat verband hou met die herstel van mediese prosedures, chroniese siektes en selfs trauma, af te lei. Pasiënte wat speletjies speel, rapporteer minder negatiewe aspekte van hul toestande.
Verstandelike oefening
Dit is geen geheim dat speletjies kognitiewe vermoëns van spelers kan verbeter nie.
Volgens MyBroadband kan die regte speletjies memorisering, konsentrasie, hand-oog-koördinasie, multitaakverrigting en reflekse verskerp.
Oordraagbare vaardighede
Een van die belangrike aspekte van videospeletjies is dat spelers gereeld met situasies te doen kry wat van hulle vereis om gebruik te maak van hul probleemoplossings- en besluitnemingsvaardighede.
Volgens MyBroadband word die hoeveelheid kundigheid wat ’n speletjie vereis dikwels onderskat, en die beste aspek daarvan is dat dit sterk toepassings in die regte wêreld het.



