Geliefde veearts oorlede

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Bekende en geliefde veearts by Kimberley Veterinary Clinic, dr. Joseph van Heerden, is vanoggend ongeveer 12:30 oorlede. Kimberley se dieregemeenskap is in rou.

Willie Reicherd, een van dr. Van Heerden se jarelange vriende, vertel dat dr. Van Heerden vir ’n ruk al in ’n stryd met kanker was. Volgens Reicherd was dit ’n aggressiewe soort kanker. Dr. Van Heerden het sy laaste dae op sy plaas tussen Reivilo en Kuruman deurgebring.

“Hy was ’n besonderse mens. Hy was briljant, soos geen ander mens wat ek ken nie. Ek sal hom vir altyd onthou,” sê Reicherd.

Charmaine van Zyl Calitz sê sy het vir 22 jaar ’n pad saam met dr. Van Heerden gestap. “Ons het altyd so geliefd gevoel. Ons gaan hom baie mis. ’n Mens sê altyd dankie, maar mens sê nooit hoeveel ’n mens regtig iemand waardeer nie.”

Volgens Kimberly Kimmy Sassin was dr. Van Heerden dag en nag, weeksdae en naweke, altyd daar en bereid om te help. “Wat ’n merkwaardige man. Al my troeteldiere was al by hom. Laatnag oproepe om my kat by my huis te kom haal, my boerboel wat nie in ’n hok kon pas nie en toe maar langs die ontvangsdames gesit het. Huisbesoeke wanneer daar ’n noodgeval was. Kundigheid wat niemand hulself kan indink nie. Rus in vrede, Professor!”

Jean Oosthuizen sê: “Hy was ’n merkwaardige man. Hy was altyd bereid om ’n mens te help. Kimberley het ’n groot vriend verloor.”

Hester Swiegers sê: “Dit is so hartseer. Rus in vrede, Dok. Nou het jy geen meer pyn nie. Al die hondevriende wat nie meer met ons is nie, het jou by die hemelpoorte gekry. Jy was so gewild onder die mense en dierekinders in Kimberley. Jy gaan gemis word.”

Magda Wessels sê: “My Dok, my hart is seer, maar ek weet jy het nie meer seer nie. Ek gaan jou mis.”

Geliefdes en vriende, sowel as die dieregemeenskap in Kimberley, neem afskeid van ’n jarelange vertroueling.