Geen verskonings meer vir verkeerchaos tydens beurtkrag nie, sê AA

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA – Die Automobiel-Assosiasie van Suid-Afrika (AA) sê verkeersdepartemente regoor die land wat nie help om die impak van beurtkrag op die verkeer te verlig nie, laat motoriste in die steek.

Die AA is van mening dat die verskonings van ’n tekort aan hulpbronne by verkeersdepartemente nie langer geduld mag word nie.

“Beurtkrag wat voortdurend deur Eskom ingestel word, is ‘n groot terugslag vir Suid-Afrika se reeds geknelde ekonomie. ’n Poging om beurtkrag gedurende spitsverkeer te vermy, was nog ’n groot mislukking. Dit is tyd vir verkeersdepartemente om op te tree en hul werk te doen deur dienste aan die publiek te lewer wat die druk te verlig,” verduidelik die AA.

Die vereniging merk op dat hulle toenemend klagtes van lede ontvang oor ‘n gebrek aan verkeerspolisiëring tydens beurtkrag by groot kruisings, waar motoriste ry en die noodbaan blokkeer om voertuie verby te gaan.

“Ons herinner motoriste konstant daaraan om kalm te bly en om ten alle tye die reëls van die pad na te kom, en ook om hul gesindhede aan te pas om voorsiening te maak vir die onvoorsiene. Dit lyk egter asof verkeersdepartemente glo dit is besigheid soos normaal om te kyk vir lisensieskyfies by padblokkades wat verval het, om so hulle inkomste op te stoot. Dit is nie die antwoord nie – verkeerswetstoepassing regoor die land moet beter vaar,” sê die AA.

Sommige van die maatreëls wat die AA aanbeveel vir verkeerswetstoepassing, is onder meer:

  • Die onmiddellike opskorting van padblokkades wat gerig is op inkomste-invordering en wat nie die vloei van verkeer help nie. Uiteraard moet padblokkades wat gerig is op die hantering van kriminele aktiwiteite voortduur; dit moet nie verwar word met diegene wat slegs kyk of lisensieskyfies verval het nie.
  • Herontplooiing van alle beskikbare verkeersbeamptes na belangrike kruisings en roetes waar die verkeersopeenhoping ernstig is as gevolg van die aanhoudende beurtkrag – veral in spitstye soggens en middae.
  • Verlenging van die werksure van verkeersbeamptes om te verseker dat meer mense beskikbaar is, indien nodig.