Uitputting en oorweldiging – bose kringloop?

Deel hierdie storie / Share this story

Hoe gereeld bevind jy jouself in ’n situasie waar jy stres omdat daar eenvoudig net te veel goed is om te doen en dit voel asof daar nooit genoeg tyd is om dit als te doen nie?

Hierdie gevoel van oorweldiging kan jou kruppel laat, konstant gestres laat voel. Jy vergeet dinge, dit voel asof jy jouself en soveel ander mense in die steek laat. Jy is ’n mislukking, eenvoudig net nie goed genoeg nie. Wanneer negatiewe stressors aanhoudend opbou en nie bestuur word nie, kan dit as uitputting manifesteer. Irene Haasbroek, kognitiewe gedragsterapeut, lewensafrigter en berader, gee raad.

Emosionele bestuur en verwerking

Wanneer ons sterk emosies voel, soos wanneer ons oorweldig voel, neig ons denkpatroon om ’n ‘als of niks, ’n swart en wit’ patroon te volg. Hierdie gekompakteerde manier van dink maak dit moeilik om die groter prentjie raak te sien. Die emosie van oorweldiging mag aanvanklik aangevuur word deur al die to-do’s in jou lewe. Wanneer dit nie bestuur word nie val die to-do’s wat agtergebly het in, die to-do’s wat in die toekoms nog gedoen moet word, kom by en om die pot van mislukking dan nog verder geur te gee, begin jy dink aan al die dinge wat jy behoort te doen en die goed wat jy veronderstel is om te doen. Jy begin wonder oor al die goed wat eintlik buite jou beheer is en jy probeer dit beheer. Die kersie op die koek is wanneer jy begin dink aan die prentjie wat die wêreld daarbuite uitwys as die idealevrou, en al wat jy kan raaksien, is waar jy te kort skiet.

Ons almal het hierdie prentjie in ons kop van wat ons wil hê, hoe ons lewe moet wees en elke dag werk ons daarna. But life happens… Dit sit ons gedagtes op ’n verkeerde pad en dit veroorsaak frustrasie. Na ’n ruk raak ons angstig, dan voel ons skuldig, dalk ’n bietjie skaam. As ons nie werk maak van ons gevoelens nie, spiraal ons af tot waar ons hulpeloos, nutteloos, waardeloos en sonder hoop voel. Dis hier waar uitputting en depressie kan begin.

Angstigheid en depressie

Wat jy moet besef, is dat angstigheid en depressie ’n reaksie is op bedreigings wat ons ervaar, hetsy hierdie bedreigings werklik bestaan en of ons dit net dink. (Alhoewel ons brein baie slim is, kan dit nie die verskil herken tussen ’n werklike gebeurtenis en ’n verbeelde gebeurtenis nie.) In klein ’n dosis is dit veronderstel om ons te help, dit beskerm ons teen gevaar en fokus ons aandag op probleme. Indien dit te erg raak, of te gereeld raak, word dit afbrekend, hoë dosisse kortisol (die primêre streshormoon) word aanhoudend vrygestel en dit kan lei tot uitputting. Uitputting bestaan uit ’n groep simptome wat saam manifesteer. Dit word gedefinieer as die verlies van betekenis in die lewe met meegaande geestelike, emosionele en fisiese moegheid.

Angstigheid kan vererger

Aanvanklik is dit natuurlik om angstigheid effe te ignoreer, dalk daai taak wat gedoen moet word, uit te stel. Dit bring dalk ’n bietjie verligting, maar die nadeel is dat elke keer wat iets soortgelyks gebeur, kan die simptome van angstigheid net erger word.

’n Belangrike vaardigheid is om te leer om ons emosies te prosesseer. Erken elke emosie, ondersoek die emosie, en kies ’n manier om deur die emosie te werk. Wanneer ons emosies ignoreer, ervaar ons onvrede en emosionele reaktiwiteit.

“Unexpressed emotions will never die. They are buried alive and will come forth later in ugly ways.” -Sigmund Freud

Spanning of stres in ons lewe is nie altyd ’n slegte ding nie. Dit motiveer ons om ons probleme op te los. Die doel is om spanning te bestuur en nie om dit weg te vat nie.