Drie vir gewapende roof gevang

Deel hierdie storie / Share this story

DELPORTSHOOP – Die polisie hier ondersoek ’n saak van gewapende roof, poging tot moord en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen nadat drie mans in hegtenis geneem is.

Lt.-kol. Dimakatso Mooi, polisiewoordvoerder, sê twee verdagtes het na bewering op 8 Februarie omstreeks 16:00 ’n plaaslike winkel besoek en het voorgegee om belang te stel om tamaties te koop. Mooi sê dit het egter anders verloop nadat een van die verdagtes ’n manspersoon geskiet het.

Die verdagtes het sonder die vuurwapen gevlug nadat ’n persoon vanuit ’n ander vertrek op hulle geskree het. 

Die polisie is onmiddellik ontbied en die verdagtes is agternagesit en vasgetrek.

Die slagoffer is met ’n skietwond na ’n hospitaal geneem.

Mooi sê ’n derde verdagte wat glo die wegkom-motor sou bestuur het, is ook gearresteer. Die verdagtes is in die besit van ’n tweede ongelisensieerde vuurwapen betrap en gearresteer.

Al drie mans – 33, 38 en 43 – gaan binnekort voor ’n hof verskyn.