18 jaar tronkstraf vir moord op 16-jarige

Deel hierdie storie / Share this story

Op 7 Februarie 2020 het die hooggeregshof in Kimberley ’n man 18 jaar tronkstraf gevonnis.

Volgens lt.-kol. Dimakatso Mooi, polisiewoordvoerder, is die slagoffer op 2 Junie 2019 as vermis aangemeld en die polisie se reddingspan het haar liggaam op 6 Junie 2019 in die veld by Breipaal naby Douglas gevind.

’n Moordsaak is teen Francke geopen en hy is dieselfde dag nog gearresteer. Sers. Jacobus Frans April het ’n noukeurige ondersoek gedoen en het seker gemaak dat Francke nie borg toegestaan sal word nie en agter tralies sal bly tot hy gevonnis word.

Lt.-kol. Mooi het gesê Riaan Rodrich Francke het die slagoffer (16) se keel afgesny en haar half kaal in die veld gelos.

Francke is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van moord, 12 maande vir diefstal en 9 maande vir dwarsboming van die gereg.

Die provinsiale bestuur is dankbaar vir die ondersoekbeampte se verbintenis tot die saak, asook die gemeenskap se samewerking vandat die meisie as vermis verklaar is.

Foto: Ondersoekbeampte Sers. Jacobus Frans April.