Ontvoering en die wetenskap daaragter

Deel hierdie storie / Share this story

Die ontvoeringsgevalle in Suid-Afrika en selfs in die Noord-Kaap raak by die dag meer. Mike Bolhuis, gespesialiseerde privaat speurder, gesels met ons oor die verskillende tipes ontvoering en hoe om dit te voorkom.

Lukrake ontvoerings

Daar is gevalle waar ‘n kind of ‘n persoon deur iemand wat hul van geen kant af ken nie, ontvoer word. Moontlike redes hiervoor kan wees dat die ontvoerder dringend geld nodig het vir byvoorbeeld dwelms, skuld of dobbelskuld of befondsing vir een of ander bende-aktiwiteite. Die ontvoerder sal dan ‘n losprys vra.

As die familie betrokke is

Daar is ook gevalle waar die ontvoerder ’n familielid is. Redes hiervoor kan ook dwelms of skuld insluit. Familiestryery kan ook lei tot sulke ontvoerings. Wanneer ‘n kind se ma en pa skei, kan dit soms in ‘n hewige stryery ontaard oor by wie die kind na die egskeiding gaan bly. Ouers wat ontevrede met die uitkoms van die saak is, kan dan die kind ontvoer om by hom of haar te gaan bly.

Self-beplande ontvoerings

Ons land se dwelm-epidemie dryf baie verslaafdes daartoe om hul eie ontvoering te beplan. Baie jongmense en tieners word verslaaf en sien dan geen ander uitweg nie. Hierdie dwelmleefstyl kan nie sonder ‘n redelike hoeveelheid geld gehandhaaf word nie. Kinders wat wrokke teen hul ouers hou oor dinge wat in hul lewens gebeur het, is soms ook die rede vir sulke selfbeplande ontvoerings.

Hoëprofiel-ontvoerings

Hierdie tipe ontvoerings word vooraf goed deurdink en beplan. Finansieel welgestelde persone word gewoonlik in hierdie gevalle geteiken. Redes hiervoor is ook dikwels dwelms, bende-aktiwiteite, kerklike aktiwiteite ensovoorts.

Maniere om ontvoering te voorkom

Hoe meer inligting die ouers en die kind het, hoe vinniger kan die ontvoerder geïdentifiseer en gevang word. Hou die kommunikasie tussen jou en jou kind aan die gang. Maak seker jou kind(ers) ken jou selfoonnommer en adres. Maak seker jou kind weet om nie enigiets by vreemde persone te neem nie. Leer ken jou kind se vriende. Wanneer jou kind iewers heen gaan en ‘n vriend saamneem, sal jy beter voel.