KIMBERLEY – Altesaam R105 000 is op die spel met die Phakamile Mabija-marathon wat op 21 Maart 2020 in Kimberley gehou word.
Teemaneng Running Club (TRC) is ’n hardloopklub in die Noord-Kaap wat saam met die Athletics Griqualand West (AGW) en Athletics South Africa (ASA) ’n verskil probeer maak in behoeftiges se lewens. Die klub is in Junie 2019 gestig. Hulle fokus daarop om die minderbevoorregte gemeenskappe in en om die Frances Baard-distrik wat nie altyd die geleentheid het nie, die geleentheid te gee om hul talente raak te sien en te ontwikkel.
Die klub het 130 lede wat elke Dinsdag, Donderdag en Saterdag hardloop.
TRC het besluit om ’n halfmarathon te hou ter viering van hul stigting. Hierdie halfmarathon, wat die Phakamile Mabija-marathon genoem word, word in Kimberley op 21 Maart 2020 gehou en die raad het gesê hulle wil minstens 600 – 800 inskrywings hê.
Lorato Banda, voorsitter van die TRC, sê om vir almal in Kimberley ’n geleentheid te gee om aan hierdie marathon deel te neem, gaan die marathon in die Galeshewe-stadion begin en gaan verby al die toeristeaantreklikhede en besienswaardighede in Kimberley en die informele nedersettings. Die Galeshewe-poskantoor, Bantu-saal, die Phakamile Mabija-polisiekantoor en die Groot Gat is deel hiervan. Daar is ’n versoek aan die Phakamile Mabija-polisiekantoor gerig om ’n tydelike gedenkarea op te rig sodat die wat aan die marathon deelneem, vir Phakamile Mabija kan vereer.
Inskrywings van regoor die land word verwag. Inskrywings vir die mense in en om Kimberley sal op Dinsdae en Donderdae by die Tegniese Hoërskool in Kimberley beskikbaar wees. Die dag voor die marathon, 20 Maart 2020, sal daar registrasie vir die marathon by die Galeshewe-stadion gehou word. Klik hier om op Webtickets in te skryf.
Dr. Zamani Saul, die premier van die Noord-Kaap en ook die ambassadeur van die marathon, sê dis baie belangrik om te onthou dat ’n begin, al is dit hoe klein, nooit onderskat moet word nie.
“Mens moenie dink aan een groot gebeurtenis of belegging wat alles in ons ekonomie gaan verander nie. Dis beter om eers jou aandag te vestig op die klein goedjies, voordat jy groter projekte aanpak. Ons het nog 100 van hierdie inisiatiewe nodig.”
Absa maak dit vir die Teemaneng-hardloopklub moontlik om vir die wenners hul prysgeld te gee. Die wenners van die 21 km-afdeling in hierdie marathon sal afsonderlik R30 000, R20 000 en R10 000 ontvang. Die wenners van die 10 km-afdeling se prysgeld is R15 000, R10 000 en R5 000.



