Gevaarlike kabels regoor pad gekoppel aan lamppaal – munisipaliteit nie bewus daarvan

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die Sol Plaatje-munisipaliteit sê hy was nie bewus van kragdrade wat vanaf ’n huis in Saulstraat, na die lamppaal aan die oorkant van die straat, herlei is nie.

Sello Matsie, woordvoerder vir die munisipaliteit, het op navrae van FiND iT geantwoord. Dit volg nadat FiND iT ’n artikel gedoen het oor ’n kragkabel wat herlei is vanaf ’n huis in dié straat na ’n lamppaal reg voor die Eureka Laerskool.

Gevaar vir leerlinge?

Inwoners in dié straat is baie bekommerd oor die veiligheid van leerlinge wat dalk na skool vir hulle ouers wag. Die kragdrade is heeltemal oopgelos en mag dalk gevaarlik wees vir kinders.

Munisipaliteit sal ondersoek

Matsie sê die munisipaliteit sal gaan ondersoek instel en enige gevaarlike kabels verwyder. “Ons vra om verskoning vir die ongerief.”

Inwoner sê dit was munisipaliteit

Zebonia Blignaut, die inwoner van die huis waarvandaan die kabels aangelê is, sê sy het Saterdag agtergekom haar krag is af. “My bure se krag was nog aan, so ek het die munisipaliteit gebel en hulle het Sondag by my huis opgedaag.”

Blignaut sê die beampte van die munisipaliteit het gesê die enigste manier om weer krag aan haar huis te voorsien, is om krag vanaf die lamppaal aan die oorkant van die straat te trek. Daar was fout met een van die kragkabels van haar huis.

Sou weer verwyder

“Die munisipaliteit het in sy vragmotor hier opgedaag en die drade vanaf die lamppaal na my kragboks aangelê.”

Sy sê die munisipaliteit sou die drade Maandag weer kom ontkoppel, maar niemand het nog opgedaag nie.

Dit is ook nie duidelik wie die persoon was wie die kabel aangelê het nie, aangesien die munisipaliteit nie bewus is van die voorval nie.

Matsie het bevestig die munisipaliteit lei soms kabels so aan as ‘n tydelike oplossing.