Faux diepgebraaide roomys

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA – Wie hou nie van roomys nie? Roomys is ’n veelsydige nagereg waarmee mens baie kan eksperimenteer.

Hier is ’n heerlike resep vir faux diepgebraaide roomys. Spesiaal vir diegene wat nie hul diepgebraaide roomys in oliebolle wil verander nie.

Bestanddele:

  • 3 koppies roomys
  • ¾ koppie botter
  • 6 koppies hawermout
  • ¼ koppie suiker
  • 1 teelepel kaneel
  • 1 koppie gekapte neute (opsioneel)

Metode:

Haal die roomys uit die vrieskas en laat dit vir ongeveer 10 minute sag word.

Sit bakpapier in ’n bakplaat of oondpan terwyl die roomys versag.

Sodra die roomys sag genoeg is, skep dit dan in eenvormige balletjies, ongeveer eetlepelgrootte, in die bakplaat of oondpan uit.

Sit die roomysballetjies dan vir 30 tot 60 minute terug in die vrieskas of totdat die roomysballetjies ferm is.

Verhit die oond tot 180°C.

Smelt die botter in ’n kastrol op die stoof of in die mikrogolfoond.

Meng die hawermout, suiker en kaneel en strooi dit in ’n oondpan.

Voeg die gesmelte botter by die hawermoutmengsel.

Roer die mengsel deeglik deur en plaas in die oond.

Bak die hawermoutmengsel vir 5 minute of tot ’n goudbruin kleur.

Laat dan die hawermoutmengsel afkoel.

Sodra die mengsel koel is, haal die roomysballetjies uit die vrieskas en rol dit in die mengsel tot die roomys eweredig bedek is.

Bedien die faux diepgebraaide roomys dadelik.

Jy kan dit selfs in die vrieskas bêre vir latere gebruik.

Vir verskeidenheid:

Bedien die faux diepgebraaide roomys met ’n sjokoladesous of gemengde vrugte.

Laat weet ons wat julle dink van hierdie resep!