KIMBERLEY – Dixina Bhoola, nog ’n slagoffer van die toenemende misdaadsyfer in Kimberley, gesels met FiND iT.
Twee mans het oor haar heining geklim en haar hondjie gesteel. Bhoola het die twee mans agternagesit om haar hondekind te red. Sy kon die een ingehardloop kry.
Die dief het ’n mes uitgepluk en gedreig om Bhoola te steek as sy aanhou om hulle agterna te sit.
Bhoola vertel: “Sy was die kleinste baba uit al sewe van die hondjies wat gebore is. Ek het haar vir myself gehou. Ek het haar van geboorte af versorg. Sy was sieklik en het ’n knop op haar magie gehad. Ten spyte van alles het sy oorleef. Sy is my klein vegter. Ek wil haar so graag net terug hê!”
’n Saak van diefstal is by die polisie aangemeld.
Bhoola sê: “Dis nie ’n stuk goud of die Krugerrand wat jy kan smous nie. Dis my troeteldier. Dis my baba! Ek is haar hele lewe.”
Luidens gerugte is Bhoola se hondekind in Galeshewe verkoop.
Bhoola is desperaat om haar natneuskind terug te kry.
“Puppyloo, ek weet nie eers of jy kos en water het nie. Ek weet nie of hulle jou seergemaak het nie. Ek hou moed dat jy sal terugkom. Weet dat ek jou lief het en dat jou speelgoed en jou bakkie vol kos en water vir jou wag wanneer jy by die huis aankom,” is Bhoola se boodskap aan haar hondekind.



