‘n Dag in die lewe van…

Deel hierdie storie / Share this story

Katlego Cidraas (24) het met ons gesels oor sy ondervinding as ‘n verkoopspersoon by ‘n kettingwinkel in Kimberley.

Cidraas werk al vir ‘n jaar en ‘n half as ‘n verkoopspersoon en sy ure is van 11:00 tot 20:00, selfs op naweke. Volgens Cidraas het hulle altyd in skofte gewerk van 09:00 tot 18:00, maar die bestuur by die kettingwinkel het besluit dat hulle die ure moet werk wat hulle nou werk. Volgens Cidraas is hulle drie persone wat in een afdeling werk. Hy sê hy en sy kollegas het al gevra of hulle nie miskien net in die afdeling kan skofte werk en beurte maak nie, maar die bestuur by die kettingwinkel het net gesê dat hulle na die werknemers sal terugkom oor die saak.

“Die ure is baie moeilik, maar mens raak maar vinnig daaraan gewoond. As jy ‘n familie het om voor te sorg, gee dit jou nie regtig ‘n ander keuse nie.”

In Cidraas se vrye tyd hou hy daarvan om sommer voor die televisie te ontspan of vir sy meisie te gaan kuier.

Cidraas vertel egter hoe bekommerd hy oor sy gesondheid is.

“Soms werk ek vir ure aaneen in die vrieskaste daar agter. Ek kan my dikste baadjie aantrek, maar ek kry nogsteeds koud. Ek voel soms baie sleg as ek van die werk af by die huis kom. Ek was al twee keer by die dokter oor my rug.”

Volgens Cidraas tel hy daagliks ‘n klomp swaar voorwerpe op en is dit besig om rugprobleme te veroorsaak. Cidraas sê dat hy ‘n brief van sy dokter af gekry het wat se dat hy nie so baie aan die koue temperature blootgestel mag word nie, maar hy wag nou nog om van sy werkgewer terugvoer te ontvang oor die brief.

“Dit bekommer my, want ek is nog jonk. Ek wil nie eendag te siek en te seer wees om saam met my kinders die lewe te geniet nie.”