KIMBERLEY – Roelien Flemming (64), of soos meeste leerlinge haar ken, Juffrou Koekies, het vandag afgetree na 41 jaar as ‘n onderwyseres. Die bynaam “Koekies” was vir haar uitgedink toe sy nog as Roelien Koekemoer (haar nooiensvan) bekend was.
Flemming het vir vier jaar by die Bloemfonteinse-kollege studeer om haar onderwysgraad verwerf. Sy het toe vir drie jaar op Viljoenskroon skoolgegee, waarna sy van 1982 tot 1998 by die ou Hoërskool HF Verwoerd skoolgegee het. Flemming het toe van van 1998 tot vanjaar by Elizabeth Conradie-skool skoolgehou.
Flemming het in 2017 die Nelson Mandela-toekenning vir Eervolle Vermelding ontvang vir meer as 40 jaar diens in die onderwys.
“My mentors was beslis Dirk Liebenberg en Ryk van Velden. Alles wat ek vandag weet van klasgee, het ek by hulle geleer.”
Flemming vertel van die oomblikke wat sy saam met leerlinge gehad het, wat sy nooit sal vergeet nie.
“Die een seuntjie vir wie ek op Viljoenskroon skool gegee het, bou die een dag saam met my woorde. Hy moet toe ‘n woord maak met die letter “i” en die woord wat hy toe kies, is blik. Ek vra hom toe om ‘n sin te maak met die woord en hy sê vir my: ‘Die klein blik sê vir die groot blik ‘hallo oom Blik!”
Flemming se planne noudat sy afgetree het, is om voltyds ouma te wees vir haar vier kleinkinders, klere te maak, te verf en tuin te maak en net die res van haar lewe te geniet.
“Daar is minder jare wat voor my lê as die wat al verby is. Ek gaan die meeste maak van die paar jare wat voorlê.”




