SUID-AFRIKA – Hierdie wit skoenlappertjies word regoor Suid-Afrika gesien, maar is meer gewild in provinsies soos Gauteng, Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap. Dit laat talle Suid-Afrikaners wonder oor waar hierdie vreemde vlinders vandaan kom en wat hul doel is.
Hierdie skoenlapper staan bekend as die bruin-beaarde wit skoenlapper. Dit maak ’n belangrike deel uit van ’n delikate ekosisteem. Die skoenlappers dien as prooi vir voëls en verskeie insekte omdat hulle so naby aan die grond beweeg.
Dr. Vaughn Swart, van die Plant- en Dierkunde Departement van die fakulteit van Landbou aan die Universiteit van die Vrystaat, vertel dat hierdie skoenlapper ontstaan in dorre gebiede vanuit die Karoo. Die skoenlappers sal gedurende die middel van die somermaande in ’n noord-oostelike rigting na Mosambiek migreer.
Die hoeveelheid skoenlappers wat migreer, verskil van jaar tot jaar. Hoe die spesie voortplant, hang van die beskikbaarheid van voedsel af. Indien dit te droog is en voedselbronne skaars is, sal die getal skoenlappers wat migreer, afneem.
Dit neem ongeveer twee dae vir hierdie vlieënde vlinder om sy bestemming te bereik.
Wees op die uitkyk vir hierdie bruin-beaarde wit skoenlapper wat op sy reistog is na Mosambiek!



