Daar was gerugte dat die eerste geval van die koronavirus in Suid-Afrika voorgekom het, na ‘n persoon op ‘n Whatsapp-buurtwaggroep in Pretoria duisendes met ‘n paar boodskappe op hol gejaag het.
”My skoonsus is nagmatrone by die Eugene Marais-hospitaal. Sy is tans aan diens. Sy het nou laat weet die eerste koronavirus-pasiënt is vanaand daar opgeneem. Hulle is 99% seker. Nog net een toets moet gedoen word om dit te bevestig.”
Die persoon het ook gesê almal moet vir hulle en hul families gesigmaskers koop. Die personeel by die hospitaal gaan gewis nie stilbly nie en sal so ver as hulle kan almal op hoogte hou.
Die bestuur van die Eugene Marais-hospitaal het egter bevestig dat dit nie die geval is nie.
Die hospitaal se sekuriteitspan is tans ernstig op soek na die persoon wat die boodskappe op die Whatsapp-groep geplaas het en verseker die persoon sal vervolg word.



