Taxi se remme laat hom in die steek

KIMBERLEY – ’n Ongeluk het omstreeks 17:00 op 29 Januarie 2020 op die hoek van De Beersweg en Florencestraat plaasgevind. Die taxibestuurder het met FiND iT gesels.
Volgens James Skinner (53), die taxibestuurder, het die taxi se remme ingegee. Hy het reeds begin remme aanslaan voordat die robot se lig na rooi verander. Hy het besef die remme het onklaar geraak toe die taxi nie stadiger beweeg nie.

Skinner sê: “Ek het regtig probeer. Daar is kinders in die taxi. Hulle is darem hospitaal toe geneem. Hulle word vir skok behandel. Die passasiers het almal baie groot geskrik.”
Die verkeersbeampte wat op die toneel was, het aan FiND iT vertel dat sy voel dit is die taxi-eienaars se verantwoordelikheid om seker te maak dat die voertuie betyds vir hul dienste gaan. Dit sal ongelukke soos hierdie voorkom en die paaie en publieke vervoer veiliger maak.

Niemand is beseer nie. Die kinders wat hospitaal toe geneem is, word almal vir skok behandel.