SUID-AFRIKA. – Karlien van Jaarsveld glo voorbehoedmiddels kan moontlik die oorsaak van baie vroue se onvrugbaarheid wees.
Sy het onlangs op haar Instagram-profiel oor voorbehoedmiddels begin praat. Sy sê voorbehoedmiddels het al op verskeie maniere groot skade aangerig en as vroue meer voorbereid is en meer ingelig, hulle slimmer besluite kan neem.
“Ek is op soek na die hart van God, om Hom te vra oor wat aangaan en hoekom vroue nie swanger raak nie. Die Woord is amazing. Ek’t ’n groot opgewondenheid in my dat die geboortekanale sal oopgaan, maar vir ons om te hoor, sal ons harte eers ongekontamineerd moet staan voor God. Sonder vorige oorleweringe en dinge wat ons wil hê moet lyk soos ons wil hê dit moet lyk. Glo my, God het die plan en antwoord. Ons gaan net moet anders HOOR en KYK,” skryf sy op haar Instagram-blad.
Karlien sê sy voel al vir ’n rukkie die Here het dit op haar hart gelê om te praat oor vrugbaarheid en waarom so baie vroue onvrugbaar is. “Hy het ons tog geroep om vrugbaar te wees.” Sy wil ook die geestelike ondersoek oor wat die rede daarvoor kan wees.
Karlien sê om ’n baba te verloor, is ’n swaar pad om te stap. Syself het al die pil gebruik en besef dit is nie goed vir haar lyf nie. Nou soek sy antwoorde en nooi ander uit om hulle navorsing en opinies oor die herstel van vrugbaarheid te deel.
Wat dink jy? Dink jy voorbehoedmiddels kan ’n effek – geestelik of fisies –hê op vrugbaarheid?



