Voertuig-eienaar gee homself oor na tref-en-trap

Deel hierdie storie / Share this story

VENTERSBURG – ’n 45-Jarige man het homself hier aan die polisie oorgegee in die tref-en-trap-saak waarin ’n bejaarde vrou en ’n kind beseer is. 

Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê die voorval het op 18 Januarie omstreeks 12:43 op die sypaadjie voor Rio Ridge-drankwinkel plaasgevind.

Die man het in sy verklaring gesê dat hy bestuur het en dat sy 19-jarige vriendin net ’n passasier was. Hy is gearresteer, aangekla en met ’n waarskuwing vrygelaat. 

Nuwe inligting het egter na vore gekom wat die vrou as die bestuurder identifiseer het. Sy is opgespoor en ook aangekla, sê Mbambo.

Die slagoffer is vir behandeling na Katleho-hospitaal geneem. Weens die erns van haar beserings is sy na Pelonomi-hospitaal oorgeplaas.

Die voertuig-eienaar en die bestuurder word Donderdag in die Ventersburg-landdroshof verwag. Lees ons vorige berig, Ouma met kind op rug in tref-en-trap beseer.