VENTERSBURG – ’n Bejaarde vrou wat ’n kind voor ’n winkel in Ventersburg, 150 km van Bloemfontein, geabba het, is ernstig beseer nadat ’n voertuig haar in ’n muur vas gestamp het.
Beeldmateriaal van die voorval is wyd op sosiale media gedeel. Sensitiewe lesers word gewaarsku om nie daarna te kyk nie.
In die video kan drie persone gesien word uit die wit Volkswagen Polo klim om skade aan die kar te besigtig voordat hulle ongeveer ’n minuut later van die toneel vlug.
Volgens The South African is die bestuurder na bewering die vriendin van ’n plaaslike skoolhoof. Die voertuig behoort glo aan hom.
Die kind is nie ernstig beseer nie, terwyl die ouma moontlik haar been kan verloor.
Mense van Ventersburg wil hê dat geregtigheid moet geskied vir die familie wat deur die voorval geruk is.
FiND iT het navrae by die Vrystaatse polisie ingedien om vas te stel of enigeen na die voorval gearresteer is.



