FiND iT help dief vastrek

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – ’n Verdagte is gister 27 Januarie 2020 by GWK Kleinhandel in hegtenis geneem vir beweerde diefstal. Dit volg nadat FiND iT ’n video-opname van die voorval geneem het.

Jana Grobbelaar, redakteur van FiND iT, sê een van die verslaggewers van FiND iT het een van FiND iT se kameras opgestel buite die FiND iT gebou, op die GWK-perseel.

“Die vermeede diefstal het buite FiND iT plaasgevind. Ons duld nie diefstal of kriminele aktiwiteite naby ons kantore nie. Ons werk graag saam met GWK om veiligheid vir almal wie hier werk, te verseker.”

Die verdagte is op kamera vasgevang waar hy uit ’n taxi klim en na ’n Toyota Hilux loop en aan die deur voel om te kyk of dit gesluit is. Die verdagte het iets in die bakkie gevat en is toe terug na die taxi.

Neil de Klerk, die uitvoerende hoof van bemarking en kommunikasie by GWK, sê: “Dit is vir GWK regtig sleg dat ons nieteenstaande duur privaat veiligheidsmaatreëls soos ander ondernemings in Kimberley nie gevrywaar is teen misdadigers nie. Die veiligheid van ons kliënte is vir ons baie belangrik. Ons evalueer daarom die bestaande situasie en oorweeg alternatiewe om die bestaande veiligheidsmaatreëls verder te verseker.”

Hy sê hy is bly die polisie kon die vermeende oortreders met die video-opname vastrek om ’n herhaling van die voorval te voorkom.