Stroop die stropers

Deel hierdie storie / Share this story

SUID – AFRIKA – Renosterstropery se statistieke skiet die hoogtes in. In die afgelope dekade is ongeveer 7100 van hierdie spesie uitgewis.

Die Groot Vyf is inderwaarheid sterk op pad om die Groot Vier te word! Luidens statistieke hou 2014 die rekord vir die grootste getal renosters wat in die geskiedenis gestroop is met ’n skokkende totaal van 1215.

Suid-Afrika is bekend vir die Groot Vyf, waarvan die witrenoster deel uitmaak. Hierdie pragdier is deel van ’n wild-familie, maar is besig om uitsterwing in die gesig te staar. Ongeveer 80% van alle renosters ter wêreld word in Suid-Afrika aangetref. Dit is waarom die land ’n groot teiken vir alle stropers is.

Tiaan Pretorius (19), ’n student wat wildbewaring studeer, sê: “Dit is ongelukkig ’n probleem wat nooit uitgewis sal word nie, maar met die regte bestuur kan dit beperk word.”

Pretorius sê: “Dit is ’n teer saak vir die mense wat elke dag daarmee moet werk. Dit is nie ’n mooi gesig om op ’n renoster wat vir dood gelos is af te kom nie. Jy voel so magteloos. Jy wil alles doen om te help, maar besef ook dat jou hande afgekap is.”

Statistieke neem af, maar nie vinnig genoeg nie. Daar is in Januarie 2019 tot en met Junie 2019 ongeveer 318 renosters gestroop. Die som-totaal van alle renosters beloop 520 wat in 2019 uitgemoor is.

Dit is inderdaad ’n tragedie wat ons land in die gesig staar. Hierdie familielid van die Groot Vyf is weerloos teen die mensdom se wreedheid, maar kyk tog na ons vir hulp.