Daar is tans ’n oponthoud met die goedkeuring van die R300 miljoen wat aan die regering vir droogteverligting in die Noord-Kaap beskikbaar gestel is.
Toe die Noord-Kaap op 10 Januarie 2020 as ’n rampgebied verklaar is, het Lindiwe Sisulu, die minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, R300 miljoen beskikbaar gestel vir die sink en instandhouding van boorgate en om munisipaliteite te ondersteun.
Verskeie projekte
Volgens Kobus Streuders, die hoof van die departement van water, sanitasie en menslike nedersettings, gaan die geld aan verskeie projekte bestee word en nie net aan boorgate nie.
“Ons gaan Sedibeng Water aanstel om verskillende projekte te bestuur sodat boere water aan vee en munisipaliteite water aan inwoners kan verskaf. Sedibeng Water gaan die implementering doen om die werk te bespoedig.”
Volgens Streuders is ’n totaal van R85 miljoen opsygesit vir die opstel van boorgate vir veesuipings in die Noord-Kaap.
Soveel soos een-en-dertig dorpe in die Noord-Kaap word direk deur die droogte geraak.
Streuders sê daar is van 2018 af meer as R90 miljoen aan droogteverligting in dié provinsie bestee.
Sodra die departement van water, sanitasie en menslike nedersettings finale toestemming ontvang, kan die werk begin om droogtegeteisterde Noord-Kaapse dorpe en plase van water te voorsien.



