Geliefde Kimberliet oorlede

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – ‘n Geliefde Kimberley-inwoner is gisteraand skielik oorlede.

Eduard Katzke (51) is in Bloemfontein oorlede. Katzke se seun, Conduard, is die hoofseun van die Laerskool Eureka.

Leerlingraad-kamp uitgestel

Mnr. Manie Verreynne, skoolhoof, sê die leerlingraad sou vanoggend op hulle leierskamp vertrek. “Met my aankoms by die bus vanoggend om 06:30, het meeste leerlinge reeds geweet. Die kamp word aangebied op ‘n plek waar daar nie sein is nie en ons kon nie die kinders wegstuur met soveel emosionele trauma nie.” Die kamp is vir eers uitgestel.

Bied berading aan

Die skool het dadelik die hulp van ds. Santie Nel, van die NG-kerk Harmonie ingeroep om berading aan leerlinge te gee.

“Die dood van ‘n ouer is geweldig traumaties en het baie gevoelens by ons gr. 7’s gewek. Ds. Nel werk met die kinders individueel as hulle voel hulle wil daaroor praat of het ondersteuning nodig. Nou is vir ons die belangrikste om die Katzke-gesin te ondersteun. Ons vorm ‘n laer om ons hoofseun.”

Groot ondersteuning vir skool

Mnr. Verreynne sê die skool het geweldige waardering vir wat mnr. Katzke vir die skool beteken. Hy was ‘n baie groot borg vir die skool en het bydraes van buite die skool gekry. Hy het groot skenkings gedoen en het met die wildsveiling ook gehelp. “Hy het altyd liefdevolle ondersteuning aan sy kinders gegee. Hy was ontsettend trots dat sy seun hoofseun is. Dit was ‘n hoogtepunt vir hom.”

Mnr. Verreynne het gesê die skool sal voortgaan om ondersteuning aan die leerlinge en gesin te bied. “Ons innige meegevoel aan die gesin.”

Katzke word oorleef deur sy vrou, Elana (47), Conduard (12) en Elcke (16).