KIMBERLEY. – Dr. Johan Spangenberg, ginekoloog by Lenmed, se droom was nog altyd om ’n dokter te word.
As kleinseun van Diamantveld Hoërskool se skoolhoof van 1969 en seun van dr. Hennie Spangenberg, het hy noue bande met Kimberley.
“Die leefstyl wat mens in Kimberley kan handhaaf is vir my lekker. Ek kan gou huis toe ry en koffie drink saam met sy vrou of ’n aktiwiteit van my kinders bywoon.”
Dr. Spangenberg is getroud met Melise (40) en saam het hulle drie kinders, Zirk (9), Milla (7) en Anne (5). Met drie jong kinders kan dit soms rof gaan en juis dan is Kimberley vir hom ’n beskermde hawe waarin hy sy kinders kan grootmaak. “Ek weet eerlik nie hoe ouens in Johannesburg dit doen nie. Selfs in die nag vat dit my vyf minute om by enige van die hospitale uit te kom vir ’n kraam- of noodgeval.”
Eers was dr. Spangenberg, die enigste boetie van vyf sussies, ’n algemene geneesheer in Kimberley, tot hy verder in verloskunde studeer het. “Ek het nie gedink ek sal weer verder studeer nie, maar na ’n paar jaar in my praktyk, het die studeer-gogga weer gebyt. As intern-mediese student het ek baie van die verloskunde-gedeelte gehou en daarom het ek in verloskunde en ginekologie by die Universiteit van die Vrystaat gaan spesialiseer.”
FiND iT het bietjie meer oor hormoonbehandeling, ginekologiese ondersoeke en meer uitgevind:
Waarom verloskunde?
“Die lekker ding van verloskunde om by ’n nuwe lewe betrokke te wees. Meeste van die ander dissiplines kry dit reg om normaliteit te herstel, bv. ’n gebreekte been of blindederm wat bars, maar niemand anders is betrokke by nuwe lewe nie. Dit is opwindend om daarmee te help.” Maar daar is ook die moeilike kant. “Die verskriklike hartseer as iets verkeerd gaan. Jy kan nie help om betrokke te raak by jou pasiënte nie. Jy sien hulle gereeld, die swangerskap groei en daarom is dit wonderlik vir almal as ’n nuwe, gesonde lewe gebore word. En dis hartverskeurend as dit nie goed uitdraai nie.”
Wat is die grootste mite rondom hormoonbehandeling?
“’n Paar jaar gelede het daar ’n groot studie uitgekom wat die gebruik van hormoonaanvullings- en behandeling afgeskiet het, wat beweer dit veroorsaak onder andere borskanker. Dit het groot skade gedoen, want baie pasiënte het hulle hormoonbehandeling dadelik gestop sonder om dit met hul praktisyn te bespreek. Daar is steeds vandag vrouens wat as gevolg daarvan bang is om hormoonaanvullings te gebruik.
“Die probleem met daardie studie was die persoon wat die studie gedoen het, het nooit sy resultate aan ander wetenskaplikes voorgedoen nie. Daar was dus geen objektiewe oorsig gedoen nie. Hy het die studie en sy eie gevolgtrekkings daarvan self in die media geplaas. Dit is nie die normale prosedure as dit by mediese navorsing kom nie. Toe ander wetenskaplikes na die studie begin kyk, het hulle agtergekom hy het slegs ouer pasiënte as steekproef vir die studie gebruik, wat reeds met siektes en ander probleme gediagnoseer is en nie die algemene, ‘gewone’ pasiënt/populasie nie. Dus was die resultate van sy navorsing ongeldig en nie wetenskaplik gefundeer nie. Ons as dokters ‘individualiseer’ jou, ons kyk na jou risikofaktore, asook die voordele van hormoonbehandeling vir jou spesifieke situasie en diagnose.”
Van watter ouderdom en hoe gereeld moet vroue vir ginekologiese ondersoeke gaan?
“Dit is baie moeilik om te sê. As jy kyk na die staat se protokol, verwag hulle ’n vrou moet eers op 30
haar eerste papsmeer kry. Met HIV en ander geslagsiektes sien ons vrouens wat reeds teen 30 of 40 jarige ouderdom servikskanker het. Ek sou sê sodra ’n vrou seksueel aktief raak, moet sy vir gereelde ondersoeke gaan.”
Hoe algemeen is seksueel oordraagbare siektes onder vroue?
Dit hang af na watter tipe oordraagbare siekte jy kyk. Sommige is algemeen en ander sien ons maar min in privaat praktyk. MPV( Menslike Papilloomvirus) wat verantwoordelik is vir servikskanker (baarmoedermond) by vrouens as dit nie behandel word nie, is redelik algemeen. Daar is ook baie mites rondom hierdie siekte, want dit het niks met ‘losbandige seksuele gedrag’ te doen nie. Enigiemand kan dit kry en nie eers weet hulle het dit nie, daarom is dit so belangrik om ten minste een keer ’n jaar vir ’n papsmeer te gaan.”
Is die meeste van hierdie siektes behandelbaar en hoe gou moet dit opgespoor word?
Hoe gouer hoe beter natuurlik. Al die siektes is behandelbaar en meeste geneesbaar. Bakteriële siektes kan heeltemal genees word as dit vroeg genoeg opgetel en volkome behandel word. Virale siektes is meer gekompliseerd. Die regte behandeling kan dit heeltemal onder beheer hou.”
Is daar weer plek vir ’n normale geboorte waar vrouens tot onlangs meer ’n keisersnee verkies het?
“Ja, ek dink tog daar is ’n bietjie meer herlewing van vrouens wat ‘normaal’ wil kraam, aangesien dit die idee skep dis meer natuurlik. Maar wat is normale/ atuurlike geboortes? Mens moet realisities wees. Regte ‘natuurlike’ geboortes het plaasgevind baie jare terug waar vrouens sonder enige mediese hulp of pynmedikasie in ’n veld geboorte geskenk het. Ons praat vandag van ’n normale vaginale verlossing, in ’n hospitaal, met of sonder pynmedikasie, epiduraal ens. Dit is nie heeltemal so ‘natuurlik’ soos wat mense dalk sal wil hê nie.”
Wat dink dokter is die beter keuse?
“Mens kan nie sê nie. Dit hang van persoon tot persoon af. Albei het voordele en nadele. Elke vrou moet die verskillende opsies met haar verloskundige deeglik bespreek en dan ’n ingeligte besluit neem wat by haar situasie en swangerskap die beste pas. Vandag is daar soveel kennis, tegnologie, toerusting en ervaring beskikbaar om die baba so veilig as moontlik te ‘verlos’. Hetsy met ’n keisersnee of ‘n normale geboorte, is dit uiters belangrik dat elke vrou presies verstaan wat haar keuse behels.
As dr. Spangenberg nie besig is om vroue te help met hulle gesondheid of babatjies te vang nie, speel hy graag tennis en gholf. “Ek kry nie eintlik tyd vir ander sport nie. Ek is mal oor met my hande werk, so ek is gedurig met ’n projek by die huis besig. Ek het ook ’n paar bonsaiboompies waarna ek omsien om hulle so klein en netjies te hou.”
Kontak dr. Spangenberg se praktyk by 053 045 0520 by Lenmed.



